Grain Field Chickens (Edms.) Bpk. (GFC)

Die besluit om by die produksie en verwerking van hoender betrokke te raak, was ’n logiese uitvloeisel van die strategiese besluit wat die VKB-direksie geneem het om verder in die voedselwaardeketting betrokke te raak.

Die Oos-Vrystaat produseer groot volumes (sowat 800 000 ton) geelmielies wat voorheen sonder enige waardetoevoeging aan industrieë in ander provinsies verkoop is, asook sowat 200 000 ton sojabone. Dié twee gewasse maak onderskeidelik 60% en 18% uit van die gemiddelde formule vir braaikuikenvoer. Dit het dus ekonomies sin gemaak om die waardeketting te versterk deur ’n veevoeraanleg op te rig sodat die mielies en sojabone in hoendervoer omskep kan word, wat dan weer deur kontrakgroeiers gebruik kan word.

Die byvoeging van ’n hoenderslagpale sou die maksimum waarde toevoeg tot die gebied. Dit was dus ’n markgeleentheid wat ontgin móés word en GFC was die antwoord.

In Desember 2010 is begin met die grondwerke van die abattoir. In Mei 2011 is die staalkonstruksie opgerig en in Junie 2012 het produksie ’n aanvang geneem.

GFC se huidige posisie
Tans word daar tussen 800 000 en 850 000 hoenders per week geslag. Wanneer Fase 2 van die projek voltooi is, sal hierdie syfer na verwagting verhoog tot 1,2 miljoen hoenders per week.

GFC word besit deur VKB Agri Processors (100%). Die Grain Field Chickens Workers Trust besit sy eie hoenderhokke en lewer ook hoenders aan die abattoir.

GFC se kernwaardes is gevestig op goeie ou sakebeginsels – eerlikheid, kommunikasie en respek. By hierdie onderneming is gehaltediens en kwaliteit ononderhandelbaar. GFC se strewe is om die besigheid te vestig as ’n voorkeurverskaffer in Suid-Afrika deur te hou by die basiese sakebeginsels en sy produkreeks uit te brei. GFC glo in plaaslik vervaardigde produkte, plaaslike werkverskaffing en waardeskepping vir die Suid-Afrikaanse verbruiker.

 

Tel: 087 358 8450

Besoek ons webwerf