VKB-winkels weerspieël maatskappy se dinamiese vooruitgang

Handelswinkels is deel van die koöperasiestruktuur sedert die eerste entiteit meer as 100 jaar gelede geskep is. Net soos ’n eeu gelede word daar teenoor bestaande en ook potensiële nuwe klante na die besigheidseenhede verwys as vertoonvensters vir die landboumaatskappye. Die bestaansrede en primêre doel van die besigheidseenhede is steeds om te verseker dat die produsent se behoeftes na ’n volhoubare, winsgewende voortbestaan hier tot volle uitvoering kom. Dit is juis die rede waarom die kern van ons aanbieding steeds opgemaak word deur kunsmis, saad, chemikalieë, dierevoeding, dieregesondheid en brandstof.

In die moderne era van kleinhandel het die geleentheid ontstaan om ons aanbieding uit te brei en sodoende in aanmerking te kom wanneer die algemene verbruiker in ons bedieningsgebied opsies begin oorweeg met betrekking tot watter ondernemings aan sy/haar behoeftes kan voldoen. Laasgenoemde is juis die motivering waarom moderne, dinamiese landboumaatskappye kleinhandeldoeltreffendheid as deel van hul strategie inkorporeer.

VKB wil verseker dat die algemene verbruiker toenemend meer vertroud raak met die onderneming se produkidentiteit en -aanbieding, maar dat die koopervaring geensins tekort sal skiet in vergeleke met bestaande kleinhandelkonkurrente nie.

Om bogenoemde te bewerkstellig, word produkreekse konstant ondersoek en uitgebrei waar nodig, met ’n fokus om erkende, kwaliteit-handelsmerke teen mededingende pryse aan die klant te bied, maar in gevalle waar die mark dit vereis, ook alternatiewe meer ekonomiese opsies te bied, gerugsteun deur ’n waarborgbeleid vir algehele gemoedsrus.

Ter bereiking van die doelwit om operasioneel doeltreffend en winsgewend te wees, moet die voorsieningsketting en logistiek optimaal funksioneer. VKB gebruik regdeur sy bedieningsgebied distribusiesentrums waar ekonomie van skaal gebruik word om beste pryse te beding en ook te verseker dat produkte tydig en doeltreffend ons rakke by winkels vol hou om enige teleurstelling te voorkom.

Die aanbod van produkte in ons winkels word volgens moderne tendense gestruktureer sodat klante die gerief beleef om aankope per afdeling te doen, terwyl ons seker maak personeel ontvang opleiding om klante met vrae rakende hul behoeftes te ondersteun.

Promosies word aangebeid om seisoenaal goeie kopies aan klante te bied.

VKB strewe daarna om stelsels te verbeter sodat die algehele koopervaring van so ’n aard is dat ons al hoe meer klante met tevredenheid kan bedien.

Laastens is die opgraderings van ons fasiliteite en ook geografiese uitbreiding konstant op ons agenda. Dit is juis waarom ons tans besig is met die bou van ’n nuwe winkel in Harrismith, waar klante blootstelling sal geniet aan ’n totaal nuwe aanbieding, wat tot dusver weens spasie beperk was. Ons sien daarna uit om u eersdaags by die nuwe winkel te verwelkom. As ’n voorsmakie sluit ons voorstellings in van wat u sal kan verwag. Ons is beslis almal baie opgewonde oor die toekoms in Harrismith.

Pin It